Stapelvoedsel

Spelt, 'n soort koring en 'n geskiedkundig belangrike stapelvoedsel.
Verskillende soorte aartappels.

'n Stapelvoedsel is 'n soort kos wat daagliks in sulke hoeveelhede geëet word dat dit 'n oorheersende deel van 'n standaarddieet vir bepaalde mense uitmaak, 'n groot deel van hul energiebehoeftes verskaf en gewoonlik 'n beduidende deel van die inname van ander voedingstowwe uitmaak. Die stapelvoedsel van 'n spesifieke gemeenskap kan so gereeld geëet word as elke dag of elke ete, en die meeste mense leef op 'n dieet wat gegrond is op 'n klein aantal stapels.[1]

Stapelvoedsels verskil van plek tot plek, maar is gewoonlik goedkoop en geredelik beskikbare kosse wat een of meer van die drie organiese makrovoedingstowwe bevat wat nodig is vir oorlewing en gesondheid: koolhidrate, proteïne en vette. Tipiese voorbeelde van stapelvoedsels is onder meer knolle en wortels; en graan, peulplante en ander sade. Vroeë landboubeskawings het waarde geheg aan die kos wat hulle as stapels ontwikkel het, want behalwe dat dit die nodige voedingstowwe verskaf het, was hulle oor die algemeen geskik om vir lang tydperke geberg te word sonder om te bederf. Sulke kos wat nie bederf nie is die enigste moontlike stapels tydens seisoene van tekort, soos droë seisoene of verwagte koue winters, met die oes wat teen daardie tyd geberg is. In oorvloedige seisoene kan 'n groter verskeidenheid van kosse beskikbaar wees.

Die meeste stapelvoedsels is afkomstig van graansoorte soos koring, gort, rog, mielies of rys; of styselagtige knolle of wortelgroente soos aartappels, patats, taro, araroet of kassawe.[2] Ander stapelvoedsels is onder meer peulvrugte, sago (afkomstig van die murg van die sagopalm) en vrugte (soos broodvrug en meelpiesang).[3] Afhangend van die streek kan stapelvoedsel ook die volgende insluit: sorghum, olyfolie, klapperolie en suiker.[4][5][6] Die meeste stapels is plantaardige materiaal, maar in sommige gemeenskappe is visvang die hoofbron van voedingstowwe.[7]

  1. Verenigde Nasies se Voedsel en Landbouorganisasie: Landbou en Verbruikerbeskerming.
  2. "Staple foods — Root and Tuber Crops". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Februarie 2009. Besoek op 27 Oktober 2016.
  3. "Staple Foods II -- Fruits". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Februarie 2009. Besoek op 27 Oktober 2016.
  4. "African Food Staples".
  5. "Olive Oil & Health – All Olive Oil".
  6. "How Sugar Went From a Condiment to a Diet Staple".
  7. "Fish as food" Geargiveer 15 November 2013 op Wayback Machine.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search